Prentjie van lig en skadu-min-Jungian-idee.jpg

Dualisme van die mens

Deur die geskiedenis heen het verskeie denkers en kunstenaars met die volgende vraagstuk geworstel: hoe is dit moontlik dat die mens tegelykertyd tot radikale goedheid én vernietigende boosheid in staat is? Hierdie spanning – tussen lig en donker, rede en drang, skepping en vernietiging – lê aan die hart van die menslike kondisie. Dit is nie net ‘n morele of godsdienstige vraagstuk nie, maar ‘n psigiese werklikheid, diep gewortel in die wese van ons menswees.

Carl Jung, psigoanalis en een van die invloedrykste denkers van die twintigste eeu, het hierdie spanning verken met sy konsep van die skadu/skaduwee – daardie onbewuste deel van die persoonlikheid wat alles bevat wat die ego nie wil erken nie: impulsiwiteit, aggressie, selfsugtigheid, vrees. Jung het egter nie die skadu as slegs boos gesien nie. Hy het dit gesien as ’n integrale deel van die self – iets wat erken en geïntegreer moet word indien ’n mens werklik heel wil wees.

Om hierdie spanning te ignoreer, het Jung geglo, lei tot projeksie: ons skadu word dan buite onsself geplaas, in die “ander” gesien, eerder as in onsself. Dit is in hierdie dinamiek waaroor beskawings struikel – waar godsdiens fanatisme, politieke demonisering en selfs persoonlike verhoudings konflik voortbring. Die menslike geskiedenis is vol voorbeelde waar hierdie donker kant van die mens onherroeplik na vore tree, selfs in die naam van goedheid self.

 

Geert Olivier What comes up must go down

“What comes up must go down” – Geert Olivier.

Een van die interpretasies van hierdie kunswerk is om dit te sien as die uitdrukking van die mens se dualistiese natuur. Net soos ons die kapasiteit het vir reuse tegnologiese vooruitgang (uitgebeeld deur die Soyuz-vuurpyl wat opstyg), net so het ons ook die mag vir geweldige destruktiewe gedrag (die Twin Towers-ramp van 9/11 in die agtergrond).

Maar die menslike geskiedenis is ook gevul met dade van selfopoffering, medelye en kreatiewe skepping – gebeure wat getuig van ‘n ander kant van die menslike siel. Dié tweeslagtigheid is nie nuut nie. In die antieke wêreld het mitologieë reeds die teenstrydigheid uitgebeeld: Prometheus bring vuur na die mens, ‘n daad van opstand én liefde; Pandora se oopgemaakte kruik laat euwels ontsnap, maar op die bodem bly hoop agter. Hierdie simboliek is nie net mitologies nie – dit is sielkundig waar.

Kuns as getuie van die mens se teenstrydigheid

Kuns het deur die eeue ’n spieël gebly vir hierdie innerlike verdeeldheid. In die donker paneelwerk van Hieronymus Bosch, spesifiek Die Tuin van Aardse Luste, sien ons ’n wêreld wat oorgaan van paradys tot hel – ’n visuele vertelling van die menslike drange wat buite beheer beweeg. Dit is nie ’n eenvoudige moralistiese prent nie, maar ’n komplekse allegorie van verleiding, begeerte en oordeel.

Michelangelo se Die Skepping van Adam, kan geïnterpreteer word as God wat aan die mens inisiatief en lewe wil skenk. Die gawe van bewustheid dra die potensiaal van skepping én vernietiging. Soos Oom Ben vir Peter Parker sê in Spider-Man – “with great power comes great responsibility”.

Selfs in musiek – neem byvoorbeeld Beethoven se 5de Simfonie – hoor ons die worsteling van tema en variasie, lig en skadu, in ‘n spanningsvolle dialoog. Kuns bring nie altyd antwoorde nie; dit stel vrae. Dit dring die kyker of luisteraar aan om te fokus waar skoonheid en ongemak mekaar ontmoet.

’n Ontwykende balans

Daar is geen finale harmonie tussen goed en sleg nie – net ‘n voortdurende beweging tussen die twee. Die mens is nie óf engel óf dier nie, maar ’n wese wat daagliks balanseer tussen sy hoogste ideale en sy laagste instinkte. Jung sou sê: dit is nie ons taak om heeltemal goed te word nie, maar om heel te word – om bewus te wees van ons eie donkerte, sonder om daardeur oorrompel te word. Ons sien natuurlik hoe aanloklik die ingee tot die oerse drange kan wees, soos vertolk word in Coppola se Apocalypse Now (1979) (wat op sy beurt geïnspireer is deur die boek, Heart of Darkness, van Joseph Conrad).

Hierdie idee is verwoord in die antieke Griekse aforisme: Gnōthi seautón – “Ken jouself.” Maar watter self is dit? Die self wat gee, of die een wat neem? Die een wat bou, of die een wat afbreek? Die antwoord lê nie in ’n eenvoudige keuse nie, maar in die bewuswording van hierdie dualiteit – en in die bereidwilligheid om dit te dra.

Wat beteken dit vir ons vandag?

In ’n tyd waar moraliteit al hoe meer gepolariseer word – waar mense vinnig in kategorieë van “goed” of “sleg” geplaas word – is dit dalk nodiger as ooit om ’n meer nuanse siening van die mens te hê. Wanneer ons die boosheid van ander sien, moet ons waak teen die versoeking om onsself daarmee te kontrasteer as suiwer of rein. So ’n ingesteldheid ontken die kompleksiteit van die menslike natuur.

Die menslike dualisme vra vir eerlikheid, nie oordeel nie. Dit vra vir introspeksie, eerder as projeksie. Dit vra vir die moed om te leef met teenstrydigheid, sonder om dit vinnig op te los. Die mens, soos uitgebeeld deur eeue se denke en kuns, is nie ’n finale antwoord nie, maar ’n voortdurende vraag. ’n Vraag wat jy, leser, self oor moet nadink. Nie om “reg” of “verkeerd” te kies nie – maar om jouself met nuwe oë te sien: as draer van lig én skadu.

Laat weet gerus wat jy dink. Indien jy enige vrae het of versoeke vir toekomstige blog-onderwerpe, laat weet gerus in die kommentaar-boksie hieronder of kontak my.

 

*Vrywaring: Hierdie blogplasing is slegs vir inligtingsdoeleindes. Dit is nie mediese advies nie en geen dokter/kliënt-verhouding word gevorm nie. Die gebruik van die inligting is op eie risiko. 

 

0 Comments

Submit a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Office Hours:

Monday 9 am–6 pm
Tuesday 9 am–6 pm
Wednesday 9 am–6 pm
Thursday 9 am–6 pm
Friday 9 am–6 pm
Saturday 9 am–1 pm

Contact

(061) 534-7935

13 Fairway Rd, Bellville, Cape Town, 7530

Daniël Luttig Kliniese Sielkundige / Clinical Psychologist

HPCSA: PS 0154229

Practice No.: 1096001

Newsletter

en_ZAEnglish