Stres & Angs
Stres en angs is een van daardie ongemaklike, nare gevoelens wat ons almal al beleef het. Of dit nou ’n knop op jou maag is, stywe skouerspiere, of honderde gedagtes wat net oor en oor in jou kop maal. Maar wat presies is stres en angs, en wat kan ons daaromtrent doen?
Wat is stres en angs?
Almal word geraak deur stres. Of dit nou die stadsverkeer is, probleme by die werk of finansiële uitdagings. Ons land se konteks speel ook ’n groot rol in die bydra tot algehele stresvlakke: hoë geweld en misdaadsyfer; die nagevolge van die Covid-19-pandemie; om nie eens te praat van beurtkrag nie. Stres is dus nie opsigself ’n siekte nie. Elkeen ervaar dit egter anders omdat jou omstandighede en persoonlikheid ook ’n rol speel.
Die woord “stres” kom van die Latynse woord strictus, wat “drawn tight” beteken. Nogal gepas, né? Dit is kognitief-gedrewe en verwys gewoonlike na denke oor die toekoms.
Stres en angs word algemeen sinoniem gebruik. Tot ’n mate is dit ’n semantiese kwessie, maar ek vind dit nuttig om soos volg tussen die twee te onderskei: Ons vind ’n ingeboude stresrespons in die mens. Dit is die reaksie op ’n stressor om die situasie te help hanteer, bv. die veg- of vlug reaksie. Wat ons dan vind is, as die stressor verdwyn dan is die stres ook weg; dit is een van die groot verskille in vergelyking met angs. Angstige persone bly ervaar angs ten spyte daarvan dat daar nie ’n onmiddellike bedreiging is nie; dus is hul fight-or-flight meganisme heeltyd geaktiveer. Indien jy die hele tyd in die veg-of-vlug-respons is (kronies) kan dit egter jou gesondheid benadeel (soos jou gemoed, motivering en interpersoonlike verhoudinge).
Statistiek wys vir ons dat dit ’n belangrike bewusmakingskwessie behoort te wees:
- Angsversteurings is die groep van psigiese versteuringe wat die meeste voorkom onder Suid-Afrikaners, selfs meer as substans- en gemoedsversteurings.
- Maatskappye se syfers wys dat meer as ’n derde van Suid-Afrikaners stres by die werk ervaar.
Wat is die oorsake van stres?
- Genetika: oorerflik, temperament
- Biologie: disregulering in die neurobiologiese sisteme van die mens, byvoorbeeld GABA.
- Psigo-sosiaal
- Model van ouers: dalk was jou ma ’n angstige persoon en het sy vir jou ’n voorbeeld gestel om altyd te tob en te “worry” oor probleme
- Interne konflik: geheue van verkeerde besluite in die verlede, herhaling van beelde in jou kop na ’n sosiaal-angswekkende oomblik tydens jou werksaanbieding voor almal
- Alledaagse dinge: loopbaankeuses, kinders se skoolwerk, jou verhouding met jou lewensmaat, jou gewig/gesondheid, lang to-do lists, ens.
- Omgewing
- Sosio-ekonomiese probleme
- Publieke vervoer – vrees om na donker eers by die huis aan te kom
Kan dit positief gebruik word?
- Fisiologiese respons: kortisol en adrenalien wat afgeskei word – maak mens meer gefokus
- Motiveer jou om iets te doen bv. te gaan sit en voor te berei vir jou onderhoud
- Sportsterre wat stres gebruik om gefokus te raak – hou bietjie ons rugbyspelers se gesigte en lyftaal dop voor hulle op die veld uitdraf
Negatiewe impak?
- Verband tussen gesondheid en funksionering:
- fisies -> psigies -> sosiaal/professioneel
- Bv: jy lei dalk aan hipertensie wat oorvleuel met ’n gevoel van angstigheid; dit put jou uit; nou het jou minder krag en energie by die werk en om mense
- Kronies: Dit kan egter jou gesondheid benadeel as dit te lank voortduur en jy die hele tyd in die veg-of-vlug-respons is. Dit kan jou lewenskwaliteit aantas deur aspekte soos gemoed, produktiwiteit, en verhoudings te benadeel.
- Uitputting en skade wat veroorsaak word – mens raak meer vatbaar vir siektes soos verkoue en hartkwale. As gevolg van die afskeiding van hoë vlakke van kortisol kan dit selfs later die brein ook beskadig.
Stres en my kind?
’n Kind se sogenaamde opstandige gedrag kan maklik gesien word as stout, maar wat is dit wat die kind nie vir jou sê nie? Ons moet in ag neem dat hul woordeskat nie altyd kan uitdruk wat presies hulle pla nie. Dit is hoekom hulle eerder ’n fisiese probleem sal aanhaal bv. “my maag pyn, ek wil nie skool toe nie”, as om te sê “daar is ’n afknouerige leerder by die skool vir wie ek stres vandag”. Dus is die kommunikasie tussen jou en jou kind, en met sy/haar onderwyser/es van kardinale belang. ’n Goeie invalshoek met jou kind is om altyd sensitief te wees en empatie te toon. Die verhouding is belangrik – navorsing wys dat wanneer daar vertroue in die verhouding is en self-vertroue en bemeestering bevorder word, dan kan kinders minder geneig wees tot angs en angssteurnisse, en sal meer toegerus wees om stressors beter te hanteer.
Stres is normaal. Dit kan egter jou gesondheid benadeel as dit te lank voortduur en jy die hele tyd in die veg-of-vlug-respons is.
Hoe om angs te verminder
- Selfversorging (prioritiseer jouself)
- Grense bv. om nie werksoproepe te neem buite werksure nie
- Asemhaling – om rustig en diep asem te haal stuur ‘n boodskap na die liggaam dat jy nie in gevaar is nie, en simbolies bemagtig jy jouself deur beheer te neem van ‘n liggaamsfunskie wat veronderstel is om automaties te geskied.
- Bewuswording (“Mindfulness) is nie ’n snaakse ritueel nie
- Soms voel mens bemoei en belas, veral omdat die lewe so gejaagd is en gefokus op die verlede of die toekoms. Dit kan nuttig wees om stil te staan en die hede te ervaar vir wat dit is
- In kliniese groepsverband het ek al telekemale gesien hoe mense na ‘n paar minute van bewuswording baie positief reageer
- Angs is soms paradoksaal: hoe meer jy probeer om jou gedagtes en kommer te keer en te beheer, hoe meer indringende gedagtes en ’n verdere gevoel van onbeheer vind plaas
- 4 goue reëls
- Slaap higiëne – hoe lyk jou roetine voor jy gaan slaap?
- Oefening – die voordele van oefening op mens se gemoed is al herhaaldelik bewys. Oefening beteken wel nie jy moet noodwendig by ‘n gimnasium aansluit nie; vind maniere wat vir jou werk in jou daaglikse roetine
- Vermy/ beperk substanse soos alkohol, sigarette en kafeïen
- Indien jy op kroniese medikasie is, om dit te gebruik soos voorgeskryf deur jou dokter/psigiater (en dit met hulle te bespreek as jy enige vrae het)
- Maak dit prakties: teoreties-gesproke is daar legio maniere om gewoontes te kweek om angs te beheer – vind maniere wat prakties vir jou werk
- Joernaal/dagboek: in stede daarvan dat jou bekommernisse oneindig maal in jou kop, vind baie dit nuttig om dit neer te skryf/ te tik en dus “aandag” daaraan te gee
- Sosiale verhoudinge: gesonde menselike interaksies met vriende/familie kan help om angs te verminder
- Reik uit na hulp. Ongelukkig is daar steeds ‘n stigma verbonde aan psigiesegesondheid en om daaroor te praat. Maar dit vat waagmoed en braafheid om die belangrike stap te neem om te kan erken jy vind sekere dinge uitdagend en dat jy hulp nodig het.
- Terapie: om jou angs in ‘n veilige en terapeutiese omgewing te bespreek met ’n opgeleide en gekwalifiseerde berader of sielkundige
Ander stappe en hulplyne?
In ’n krisis, besoek ‘n noodeenheid by ’n hospitaal of dag-kliniek, moenie die persoon alleen laat totdat daar hulp beskikbaar is nie.
Jy kan ook vra dat jou kliniek of huisdokter jou verwys vir ’n volledige mediese ondersoek om aspekte soos hormoonvlakke en vitamiene in die liggaam te bepaal wat kan bydra tot stres en angs.
In Suid-Afrika het die Suid-Afrikaanse Depressie- en Angsgroep (SADAG) ’n nasionale tolvrye selfdood-krisislyn: 0800 567 567.
Indien jy enige vrae het of versoeke vir toekomstige blog-onderwerpe, laat weet gerus in die kommentaar-boksie hieronder of kontak my.
Jy is ook welkom om onderaan hierdie bladsy in te teken op my maandelikse nuusbrief wat soortgelyke artikels sal deel.
* Hierdie blog-post spruit uit ’n onlangse onderhoud wat ek gedoen het op lug met Radio Tygerberg. Baie van die vrae was gegee deur Stikland Psigiatriese Hospitaal wat as raamwerk gebied het vir die onderhoud en hierdie post.
**Vrywaring: Hierdie blogplasing is slegs vir inligtingsdoeleindes. Dit is nie mediese advies nie en geen dokter/kliënt-verhouding word gevorm nie. Die gebruik van die inligting is op eie risiko.
Bronnelys:
American Psychological Association. (2022). What’s the difference between stress and anxiety. APA.
Healthline Editorial Team. (2022). Everything You Need to Know About Stress and Anxiety. Healthline.
Kearney, C.A., & Trull, T.J. (2012). Abnormal Psychology and Life: A Dimensional Approach. Cengage Learning: Wadsworth.
Kosslyn, S.M., & Rosenberg, R.S. (2011). Introducing Psychology: Brain, Person, Group (4th Edition). Allyn and Bacon: Boston.
Lindberg, S. (2023). What is sleep hygiene? Verywell Mind.
Lydiard R. B. (2003). The role of GABA in anxiety disorders. The Journal of clinical psychiatry, 64 Suppl 3, 21–27.
Monsieur, J. (2020). Pasop, stres kan jou siek maak! Maroela Media.
Kantoorure:
| Maandag | 9 am–6 pm |
| Dinsdag | 9 am–6 pm |
| Woensdag | 9 am–6 pm |
| Donderdag | 9 am–6 pm |
| Vrydag | 9 am–6 pm |
| Saterdag | 9 vm-1 nm |
Kontak
(061) 534-7935
13 Fairway Rd, Bellville, Cape Town, 7530


0 Comments